Local newsNews

Hoe poppekas jou kind kan leer om te kommunikeer

Lees hier om meer te leer oor hoe jy jou kind se vormingsjare kan verbeter.

Kommunikasie onder kinders van voorskoolse ouderdom is noodsaaklik. Nie net dra dit by tot ’n kind se emosionele en verstandelike ontwikkeling nie, maar ’n kind se vormingsjare skep die fondasie vir daardie kind se welstand in die samelewing in latere jare.

Die kinders van Duifies Kleuterskool by die NG Moreletapark gemeente is verlede week as deel van die CMR Moreleta-tak se Kinderbeskermingsweek-aktiwiteite op ’n poppekas getrakteer deur personeel van die Situla-skool, ’n voorskool vir kleuters wat gespesialiseerde aandag benodig.

Die poppekas storie het vir die kinders geleer dat almal mekaar moet aanvaar en met mekaar moet speel, en dat maatjies wat ‘anders’ is, nie uitgelaat of gespot behoort te word nie.

“Om kinders te leer om mekaar te aanvaar is ’n grondliggende konsep in vroeë kinderontwikkeling,” sê Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng Oos.

Van der Merwe benadruk dat kinders onder die mees kwesbare lede van die gemeenskap is.

“Soveel kan verkeerd gaan in die vormingsjare; selfs kinders wat in die hoofstroom grootword, is kwesbaar vir boelie, isolasie, en ander sosiale kwessies wat op baie vroeë ouderdom in kleuterskole aangespreek behoort te word.”

“Voorkoming is altyd beter as regstellende terapie of ingryping. ’n Kind wat reeds op voorskoolvlak geboelie of geïsoleer word, bly ’n kortkop agter sy maats terwyl hy grootword. Hierdie kinders gaan sekerlik ook met skoolwerk probleme ervaar, omdat hul reeds vroeg ’n swak selfbeeld ontwikkel,” verduidelik van der Merwe.

CMR Gauteng Oos werk met kinders en gesinne in Tshwane deur middel van 13 streekskantore wat strek vanaf Bronkhorstspruit tot by Midrand.

Indien jy voel dat jou kind enige hulp benodig, kontak gerus vir Henda van der Merwe op 072-801-0092.

LEES OOK:

https://www.citizen.co.za/rekord/162158/ma-onthou-jong-kankerslagoffer-van-die-ooste/

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button